Welkom by Kleuterzone Oos Londen
Carmen Venter
Hoof
Brief uit die Hoof se pen:
My naam is Carmen Venter, en ek is ongelooflik opgewonde om die hoof van die splinternuwe Kleuterzone Oos-Londen te wees! Ek is ‘n ambisieuse en gemotiveerde persoon met ‘n diep passie vir kinders. Nadat ek vir ‘n jaar vir Graad RRR klas gegee het, het ek sonder twyfel besef dat onderwys my roeping is. Hierdie besef het my gelei om my B.Ed. in Grondslagfase aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Vir my is dit van uiterste belang om vanaf jongs af ‘n liefde vir skool en leer by kinders te kweek, want dit stel ‘n positiewe ingesteldheid wat hulle vir die res van hul skoolloopbaan sal dra.
By Kleuterzone Oos-Londen bied ons ‘n holistiese benadering tot leer, waar ons die balans tussen verstand, liggaam en gees erken. Ons gee spesiale aandag aan elke kind se fisiese, emosionele, sosiale, kognitiewe en geestelike welstand. Ons doel is om elke kind te help vorm tot die beste weergawe van hulself, deur hulle aan te moedig om betrokke te raak by ‘n verskeidenheid aktiwiteite en uitdagings. Ons skep geleenthede waar kinders selfdissipline, verantwoordelikheid, spanwerk, leierskap en goeie kommunikasievaardighede kan ontwikkel – alles binne ‘n skoon, veilige en liefdevolle omgewing.
Ons sien uit daarna om saam met julle as ouers en families te werk, en julle te inspireer om groot te droom vir julle kinders se toekoms. Dit is nooit te vroeg om ‘n sterk fondasie te lê sodat jou kind hul volle potensiaal kan bereik nie.
“Elkeen dan wat hom verneder om te wees soos hierdie kind, hy is die grootste in die Koninkryk van die hemel.” – Mattheus 18:4
Met opgewondenheid,
Carmen Venter